QUOTATION OF THE DAY:

The illiterate of the 21st century is not someone who cannot read or write, but someone who cannot learn, de-learn or relearn. (Alvin Toffler)

Monday, November 29, 2021

VAN KAKIEBOS TOT KREMETART, deur Anton van Zyl

VAN KAKIEBOS TOT KREMETART - (Nov. 2021)

Lewensreis en wurgmomente van Anton van Zyl.

Kontakinligting: 

anton@skemerberg.co.za / 082 5711 721

VAN KAKIEBOS TOT KREMETART - die lewensreis en wurgmomente van Antonius van Donderbos van bloudraad van Zyl - oftewel Anton van Zyl: vernuwende Teoloog, Bybelkenner, Antieke tale kenner, kerkplanter, ingenieur, entrepreneur en motiveringspreker. Die boek is hier! Sou jy een wou bestel in RSA - betaal asb R350 (R250 plus R100 posgeld) in rekening: A.M van Zyl Absa tjekrek Hartbeespoort, nr 640178353. Stuur betalingskennisgewing aan anton@skemerberg.co.za (verw: jou van & boek) Stuur ook jou naam en van, selnr en adres in e-pos sodat ons die boek na jou naaste Postnet kan stuur.

As jy in Harties is, kontak Anton by 0825711721 - as jy dus nie die boekbekendstelling op 1 Desember bywoon en 'n boek daar aanskaf nie (moet RSVP).

Die E-boek (pdf file) kan teen R195.00 by Anton bestel word. Inbetaal en bestel soos daarbo - spesifiseer: e-boek. Dankie!

Hier is die agterbladteks: 


VAN KAKIEBOS TOT KREMETART

Deur Anton van Zyl

 Die wurgmomente van Antonius van donderbos van bloudraad van Zyl.

Vernuwende Teoloog, Spreker, Ingenieur, Sakeman

(B.Th./ M.Div./ MA: Antieke Tale/ MA. Gesinsterapie/

MA. Missiologie. /B.Ing.)

 

Die seisoene van die lewe het in ʼn doolhof uitgeloop. Aanvanklik het Anton gedink dit is 'n labirint. Hy het keer op keer hom in die doodloopstraat bevind. Vir jare het sy karakter wegkruipertjie gespeel met sy siel. Met geluk en goue lepels het hy altyd bo-op die perd se rug gebly. Sy vriende het hom saamgesleep deur die tuimeltrein van avontuur en grootword.

     Met deursettingsvermoë en drome soos feëverhale het hy dit reggekry om tot bo op die eerste golwe te kom. Sy eerste gevegte was met die reuse van die korporatiewe wêreld. Maar die rotteresies en dekadensie van die sakewêreld sou hy moes trotseer, voordat hy in sak en as sy heil moes loop soek in die dieptes van sy binnekringe.

     Sou sy antwoorde kom van bonatuurlike magte of sou sy depressie en afwesigheid van visie en gedagte hom sleep tot in die duisternis van verdoemenis? Wat was die kanse op tweede en derde geleenthede? Hoe sou hy sy waarde weer terugvind van die ashope van drenkelinge en verslaafdes?

     Hierdie verhaal loop deur die stofgetrapte grondpaaie van Namakwaland tot in die hoogste verdiepings van die Hancock gebou in Chicago. Van klein saadjies wat in dorre lande geplant word en groot bome word wat skaduwee maak vir moeë siele wat rus soek. Dit vertel van begeertes en drome wat doodloop in werklikhede. Van liefde en verwerping. Van teleurstelling en verwyte. Van menswees en grootword. Van geloof en hoop.

Nog info: 

Saturday, March 13, 2021

MOTIVERINGSPREKER: ANTON VAN ZYL (EN RENE')

MOTIVERINGSPREKERS: 

Ds. Anton & René van Zyl 

Saam of individueel praat ons ʼn hond uit ʼn bos by kerkkampe, oggend-/ aandfunksies, orals. KLIEK HIER:Besprekingsvorm hier beskikbaar 

Ons wil jou laat lag, ontspan en inspireer met ons eie loop-en-val storie, een waar God ons elke keer uit genade opgetel het, daar waar die tekkie die teer slaan. Ons kruip dikwels deur modder en stort krokodiltrane, maar kom elke keer weer regop en lag. Ellende ken ons: Huwelikskrisisse, ʼn erge breingestremde seunskind, twee begaafde dogters, bankrotskappe, verwerping deur kerk en vriende. Eenvoudig, prakties en informeel, pas ons aan by jou tema; met getuienisse uit ons eie lewens. Hartbeespoort is ons tuisdorp, maar ons toer graag. 

Info: anton@skemerberg.co.za of 0825711721 / antonvanzyl00@gmail.com

rene@skemerberg.co.za of 0823964100 / renevanzyl101@yahoo.com

WIE IS ANTON VAN ZYL?

Dominee/ Sakeman/ Ingenieur/ Kerkplanter/ Oopkop-Christen/ Spreker / Skrywer / Berader/ Eggenoot en Pa van n breingestremde seun en twee begaafde dogters. 

Teoloog, Spreker, Ingenieur, Sakeman (B.Th./ M.Div/ MA:Antieke Tale/ MA Gesinsterapie/ MA Missiologie. /B.Ing.) Die wurgmomente van Antonius van donderbos van bloudraad van Zyl sal jou dankbaar na jou eie ellendes laat verlang. Hy het as myner se seun grootgeword, Ingenieurswese studeer, die lewe aangegryp en sy miljoene voor 30 gemaak, al is daar krioelende geraamtes in die kas. 

Nadat hy op 40 van sy voete af geklap is en alles verloor, studeer hy voltyds Teologie & probeer die eenvoud van God se Woord en genade prakties oordra, maar die teëspoed hou nie op nie. Vreesloos in geloof pak hy enorme projekte aan, stig ʼn kerk asook ʼn tehuis vir breingestremdes (en bou beide projekte self). Met 6 grade en ʼn berg lewenservaring (voetfoute en al) kan hy jou dalk net iets leer van val, opstaan en vlieg saam met ʼn geduldige en betrokke Vader. 

SY ROL AS SKRYWER: 

Anton is deesdae ook 'n kranige skrywer en het verskeie praktiese, eenvoudige preekreekse en Bybelstudies geskryf. Kontak hom gerus hieroor. anton@skemerberg.co.za Sel: 0825711721 

XXXXXXXXXXXXXXX 

WIE IS RENé VAN ZYL? (a.k.a: MEVROU DOEMINIE) 

Skrywer, Spreker, Blogger, Ontwerper: Kinderkerkmateriaal. (BA Komm. Hons. Joernalistiek) Hierdie onortodokse Mevrou Doeminie skryf lekker liefdesverhale, jeugavonture en musiekblyspele met humor en ʼn skeut informele Evangelie daarmee saam. As kunssinnige introvert durf sy die lewe met ʼn boots-and-all, avontuurlustige ekstrovert-man aan en moes dikwels in lewenskrisisse as emosionele buffer optree. Meermale bid, smeek en stoei sy by God vir haar gesin terwyl sy 2 begaafde dogters grootmaak en deel met die terapie, oefening en uitdagings van ʼn erg breingestremde seun. Haar persoonlike en kreatiewe drome moes dus sterf. Deesdae is René tuis in haar dik vel, ʼn aktivis vir gestremdes; ʼn eksentrieke ekstroverte opportunis met humor as haar wapen en ʼn diepgewortelde, gemaklike verhouding met haar God. René is ook al 'n goeie 15 jaar besig met kinderwerk en die skryf van interaktiewe kinderkerkmateriaal onder die naam: Bybelboekwurm. (www.bybelboekwurm.blogspot.com) 

HAAR ROL AS SKRYWER: 

Vir meer inligting oor die twaalf boeke (romans, Samesweringsroman en avontuurverhaal) - deur René van Zyl: kliek gerus op die skakel: lapa.co.za/Skrywer/rene-van-zyl.html Ook beskikbaar by Graffiti boeke en Amazon (as e-boeke)

 'n PDF file van haar Engelse Aksie-avontuurverhaal: 

Wee Monk's Tale, The Secret of Immortality, 

is ook by beskikbaar by: renevanzyl101@yahoo.com 

OM ANTON EN EN/OF RENE' TE BESPREEK VIR N LEKKER-LAG DOG NEK-BREEK GETUIENIS, OF N ERNSTIGE GESPREK OOR GOD, BYBEL EN MENS: 

Kliek hierop vir navraag-vorm

NOG INLIGTING OOR DS ANTON VAN ZYL EN DIE KUIERKERK:

Dominee Anton van Zyl, 'n oud-ingenieur, het die Kuierkerk in 2006 as n soort selgroep vir kerkseer en kerklos mense begin wat moeg was vir die reels en veroordeling van kerke waarin hulle vroeer hulself begewe het. Die groep was daar om mense te wys dat God hulle liefhet met hulle foute en vrae en dat hulle nie gekies is vanwee hulle dade nie, maar vanwee God se verlossingsplan: Jesus. Die kerk het begin groei en van n klein begin met n handjievol mense in n klubhuis in die sekuriteitskompleks Birdwood het ons gegroei tot n gemeente wat op 18 Julie 2010 geproklameer is met 400 gesinne wat kom aanmeld het. Ons glo in eenvoud en informele gesprekvoering, waar elke persoon se unieke belewenis met God belangrik is. Almal is welkom. Met jou hang-ups, issues, vrese en vrot verlede. Ons is almal hier alleen uit genade en aanvaar jou met ope arms.  

XXXXXXXXXXXXXX

AGTERGROND INLIGTING:    
Dominee Anton Van Zyl: Stigter Kuierkerk, Hartbeespoort

Ek is sommer net Anton, gebore in Cullinan (waar hul toevallig ook die grootste diamant ter wereld uitgehaal het!) - en ja toevallig beteken my naam ook "prescious" of kosbaar! Kan jy dit nou glo! Ek is 'n oud-ingenieur (op Potchefstroom gestudeer) en na die lewe sy draaie met my, 'n jong yuppie, geloop het, het ek geroepe gevoel om in die jaar 2000 na' my beste vriend, Hammies, se dood, voltyds Teologie te gaan studeer op Tukkies. Ek en my vrou en drie klein kinders is vir 6 jaar lank nogal deur diep waters maar die Here het gesorg met die hulp van baie vriende op Hartbeespoort.

Met 'n wonderbaarlik gemaklike geveg is ek deur Grieks 3 en Hebreeus 3 en ek het my Teologiese M-graad voltooi met die tema: Die verandering in die Ng Kerk in die eerste tien jaar van demokrasie. En daarna het ek ook M-grade in Antieke Tale en in Gesinsberading gedoen. Ek stel baie belang in die ontwikkelende kerk (emerging church) in die wêreld en veral in Suid-Afrika. Hierin het ek baie ervaring, aangesien ekself 'n uitreik in 2007 begin het wat ek noem, Kuierkerk. Dit is veral gemik op kerklose en kerkseer mense wat nie meer in die formele tradisionele kerk 'n tuiste vind nie. Ons het min of geen reëls en almal is welkom.

Ons basseer ons dienste op eenvoud, eerlikheid en waarheid of soos my vrou sal sê: Koffie, kuier en kerk! Want ons glo dat kuier en koffie die bestandele is wat maak dat mense mekaar ken, vertrou en saamwerk. Ons diens begin met koffie, voorsang, 'n 'slideshow'  van die week se bedrywighede, 'n praatjie wat ek gee oor die Bybel en God se plan en visie met die mens en eindig gewoonlik met nog 'n gekuier by 'n koffiewinkel na die tyd. Mense mag enige tyd hande opsteek en vrae vra en ek gee ook na die diens tyd daarvoor. Die uitreik het gegroei van sowat tien mense in 'n klubhuis na sowat 300+ wat elke sondag in die Xanadu winkelsentrum op Hartbeespoort bymekaarkom in 'n groot winkelarea. Op 5 Augustus 2018 het ons getrek na my plaas net buite Hartbeespoort, Skemerberg waar ek sedert 2007 besig was om so stuk-stuk n kerk te bou.

Kuierkerk is informeel en sonder fieterjasies maar jy kan maar sê ons is steeds 'n informele NG tipe kerk. Ek het immers my grootword en opleiding in die NG kerk gekry. Ons stoei by Kuierkerk net nie met twispunte soos groot of klein doop of bekers of glasies of dasse en hoë torings en preekstoele nie. Ons musiek is rustig met kitare en/of 'n keyboard. Ons kinderkerk is dinamies met 'n nuwe stelsel waaraan my vrou, Rene' werk, wat kennis van die Bybelboeke insluit vanaf Genesis tot Openbaring - en dit geskied met baie speletjies en pret.

En ja ek was vir 'n paar jaar by ons eie NG kerk op die dorp aangestel as Predikant met die spesifieke opdrag om die ou kerk te vernuwe en versoening te probeer bewerkstellig met die Kuierkerk uitreik, maar ongelukkig het my visie en die van die bestuurspan te veel verskil. Ek het gedink ek kan vernuwing of hervorming teweegbring binne die bestaande stelsel, maar God het weer eens 'n ander pad vir my in gedagte gehad. Tans is ek predikant by die Kuierkerk. Ek het al tweekeer 'n Amerikaanse kerktoer saam met 'n groepie plaaslike predikante en Prof Stephan Joubert meegemaak om die emerging church in Amerika te gaan bestudeer. Ek en my vrou het al twee besoeke aan Israel gebring sodat ons die Bybel in Jesus se tyd beter kan verstaan - een hiervan het ons as toerleiers opgetree. 
Daarbenewens toer ek graag na Europa om die kerk in sy totaliteit en diversiteit te bestudeer. Ek glo ook daarin om heeltyd vernuwende gesprekke en opleiding te ondergaan om in voeling te bly met die nuwe neigings en kennis oor kerkwees in 'n wereld wat heeltyd vernuwe. 
Met ses grade op my kerfstok, van ingenieurswese tot M-grade in Antieke tale, Teologie, Gesinsberading, kan ek oor n redelike verskeidenheid onderwerpe gesels: van antieke kultuurgeskiedenis, die taal van die Bybel, die wêreld van die Bybel teenoor die wêreld vandag, kerkgroei en kerkvernuwing, God se Vaderhart en genade (hoofsaaklik uit my eie lewe), die Christen in die sakewêreld ( ek was immers boots-and-all daarin vasgevang as jong ingenieur), gebedsverhoring al dan nie, of enige onderwerp waaraan jy kan dink. 

Hieronder is 'n ou-ou beriggie wat my vrou nog vir 'n tydskriffie geskryf het in 2003 oor ons agtergrond. Lees maar as jy tyd het.
Groete Anton  

INGENIEUR VIR DIE HEILIGE GEES!

Deur René van Zyl (Vryskutjoernalis)

Op sy dag het Anton van Zyl as elektriese ingenieur namens Eskom aan duisende huise regoor die land elektriese krag voorsien, maar deesdae vertel hy mense van ‘n ander soort krag: die krag van die Heilige Gees!  As ingenieur en teoloog moes Anton egter ‘n pad van baie smart, ontnugtering en verlies stap voor die Here die beste uit hom kon haal.

Anton, ‘n afgestudeerde ingenieurstudent van die Puk, is vandag – op die jong ouderdom van 40 – ‘n voltydse student in sy vyfdejaar aan die Universiteit van Pretoria. Ja, hy is die oudste student in sy klas! Om Grieks en Hebreeus met besondere goeie punte af te skryf en terselfdertyd met sy M-graad in Antieke tale besig te wees, is ‘n groot prestasie vir ‘n outjie wat skaars Afrikaans op skool kon deurkom! (Ja-ja, ek moet bysê hy het darem onderskeidings vir wiskunde en wetenskap gekry!). Maar hy is gou om te sê dat jy nie anders kan as om goed te doen met proffies soos Jan van der Watt, Stephan Joubert en Hennie Stander nie – hulle inspireer jou ver bo jou vermoeëns!

Anton sê sy gawe is beslis om lering te gee. Hy glo die Here het hom geseën met besondere insig in die Woord en hy kan die Bybel op ‘n eenvoudige manier vir mense oopbreek – van geleerdes tot kinders. Anton is reeds ‘n paar jaar lank al mede-spreker by die mannekampe van die NG gemeente op Hartbeespoort en ook by huwelikskampe. Hy preek selfs by die kinderkerk en waar hy sy kreatiewe brein erg moet tap! En natuurlik kom alles nie maklik en vanself nie – agter Anton lê ‘n besondere moeilike pad van snoei en versterking waarvoor Anton nie anders kan as om die Here vandag te loof en prys nie.

Anton se lewe getuig van die sukses van ‘n ambisieuse jong Ingenieur met ‘n paar sake-ondernemings en baie geld. Maar hierdie sukses het ook gepaard gegaan met baie werkstres en groot transaksies wat beklink moes word – en soos dit die gebruik is, moes dit met drank afgespoel word en met gereelde partytjies afgesluit word. Die gevolg was sy huwelik wat daaronder gely het – wat die Here later wonderbaarlik herstel het. Hy moes ook deel met sy seuntjie, hulle eersteling, wat permanente ernstige breinskade opgedoen het, ergere depressie, slaapterapie (amper skokterapie) en die “prozacs” wat gevolg het. Die Here het egter ingegryp tydens ‘n huwelikseminaar en beide Anton en sy vrou, René, se lewens in ‘n oomblik lewensveranderend omgekeer.

Hierna was alles nie net maanskyn en rose nie – ‘n paar ondernemings van Anton het misluk – hy verloor sowat R1 miljoen in die proses asook dierbare vriende vir wie die skok te erg was! Maar God is steeds in beheer en lei hom geleidelik om by sy roeping as Teoloog uit te kom. Anton is tans ‘n Teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria, besig met twee Meestersgrade. Sy begeleidingspredikant is ds. Sarel Visser van die NG Gemeente Moreletapark. Hy en sy vrou en drie kinders, Sean-Jacques (11), Michelle (9) en Chantal (6) bly op ‘n lieflike kleinhoewe buite Pretoria, omring met die Hartbeespoortdam aan die een kant en die Magaliesberge aan die ander kant, ‘n plek waar hulle God elke dag opnuut beleef met elke sonsopkoms en -ondergang. 

Omdat Anton soveel ervaring het met die gewone mens se ambisie, soeke na sukses en geld, die versoekings van die werksplek, die smart en lewe met ‘n gestremde kind, die pyn maar ook die herstel van ‘n gebroke huwelik, en die daaglikse wandel met die Here, is hy ‘n besondere geseënde spreker by manne- en huwelikskampe asook manne-oggende. Sy getuienis is vervleg met ‘n diepe belewenis en kennis van God die Vader, ‘n dag-tot-dag wandel met sy Vriend Jesus en ‘n intense belewenis van die Heilige Gees wat hom daagliks rig en lei.

INDIEN U VIR ANTON (en /of René) AS SPREKER WIL NOOI, KONTAK HOM GERUS BY: 
082 571172 of by e-pos: anton@skemerberg.co.za 
of antonvanzyl00@gmail.com