QUOTATION OF THE DAY:

The illiterate of the 21st century is not someone who cannot read or write, but someone who cannot learn, de-learn or relearn. (Alvin Toffler)

Monday, September 12, 2011

Die waarde van groepe in ons samelewing

"Be Connected”, “networking” en baie ander is die busswords wat ons deesdae baie hoor. Dit is een van die oer-beginsels wat God in die mens in geskep het. Die mens is nie alleenlopers nie, hulle is tropdiere. Dit is hoekom indiwidualisme sekerlik, die laaste eeu of wat, die grootste bedreiging en hindernis was (of is) vir positiewe en suksesvolle samelewings.

Sommige lande het groepdinamika probeer forseer met slogans soos “Eendragt maakt magt”. Suid Afrika het ook die “dilemma” dat ons gebore is in diversiteit, aangevuur deur pionierskap en omsingel is met donker Afrika. Gevolglik kan net indiwidualisme kortstondige sukses smaak op verskillende gebiede. Geen algehele aanslag sal ooit suksesvol wees binne hierdie kruitvat nie.

Omdat ek en jy gebore is 'n era van indiwidualisme is dit ongelukkig deel van ons vertrekpunte en normaalposisie (default). Ons dink groepe is vreemd en moeilik. Ons vaar makliker op jou eie as saam met mense. Ons werk moeilik saam. Ons het leemtes in groepsvaardigheid. Ons is baie gefragmenteerd in ons samelewing. Baie min mense wil net blindelings saamloop! Gevolglik is leierskap kortstondig en sporadies.

Die Zoeloes het 'n “Ubuntu” beginsel wat baie waarheid inhou: jy is wie jy is a.g.v. mense! Jou ondersteuningstrukture (groepe waarvan jy deel is) bepaal jou suksesse en in 'n groot mate jou identiteit sowel as jou toekoms.

Die wêreld waarin ons vandag leef raak al hoe moeiliker om in te leef. Daar is 'n groot oorbevolking, daar is 'n reuse kunsmatige ekonomie wat baie dinge bepaal, daar is 'n groot ongelykheid tussen ryk en arm, en tendense van algemene en algehele gesagsverlaging by alle instansies. Deregulering groei oral om ons.

Die tyd het ryp geraak waar die waarde en voordele van groepsdeelname raakgesien word. Dis is belangrik dat elke mens hom en haarself weer sal groepeer binne verskeie groepe van belang en waarde. Waar waardesisteme weer in groepsverband aangeleer kan word en tot voordeel kan strek van ons almal. Byvoorbeeld waar 'n hele bevolking weer kan besef dat besoedeling net nadele het. Waar samelewings kan besef dat netheid en aansienlikheid die moraal beïnvloed.

Die tyd het ryp geraak dat groepe, mense dissiplineer tot voordeel van daardie groep en ander groepe. Dat mense wat nie deel van opbouende en positiewe groepe is nie, mekaar sal aanspoor om deel te raak en deel te neem.

Die tyd het ryp geraak dat elkeen van ons deel sal wees aan ten minste vyf suksesvolle groepe. 'n Uitgebreide huisgesin, 'n diverse vriendekring, 'n aktiewe geloofskring, 'n dinamiese werkkring, 'n doende kultuurgroep, 'n kompeterende sportklub, 'n afhanklike welsyn en natuurlik 'n heerlike speelgroep, sommer net vir die lekker. Word sommer deel van iemand groen is, of ondersteun groepe wat keer dat diere uitsterf.

Hierdie groepe is die plekke waar ons gee en neem. Dis die plekke waar ons vorm en ontwikkel, waar ons groei en skaaf. Dit is hier waar ons onsself spieël sodat ons elke aand weet wie ons is as ons slaap tussen die drome van ons vrese en begeertes.

Dit raak belangrik dat ons deel sal wees van groepe wat sê: “Ons mors nie”, “ons steel nie”, “ons baklei nie”. En natuurlik ook veel beter om deel te wees van groepe wat sê: “ons herwin”, “ons bevoordeel”, “ons help graag” en “ons gee om”!

Hoe langer en hoe meer ons deel gaan wees van hierdie groepe, hoe groter sal ons gesamentlike bewussyn raak oor ons toekoms en ons land. Wil jy nie deel van ons groep raak nie? Asseblief.