QUOTATION OF THE DAY:

The illiterate of the 21st century is not someone who cannot read or write, but someone who cannot learn, de-learn or relearn. (Alvin Toffler)

Tuesday, May 24, 2011

AGTERGROND INLIGTING: Anton van Zyl

Ek is sommer net Anton, gebore in Cullinan (waar hul toevallig ook die grootste diamant ter wereld uitgehaal het!) - en ja toevallig beteken my naam ook "prescious" of kosbaar! Kan jy dit nou glo! Ek is 'n oud-ingenieur (op Potchefstroom gestudeer) en na die lewe sy draaie met my, 'n jong yuppie, geloop het, het ek geroepe gevoel om in die jaar 2000 na my beste vriend, Hammies, se dood, voltyds Teologie te gaan studeer op Tukkies. Ek en my vrou en drie klein kinders is vir 6 jaar lank nogal deur diep waters maar die Here het gesorg met die hulp van baie vriende op Hartbeespoort.
Met 'n wonderbaarlike gemaklike geveg is ek deur Grieks 3 en Hebreeus 3 en ek het my Teologiese M-graad voltooi met die tema: Die verandering in die Ng Kerk in die eerste tien jaar van demokrasie. En daarna het ek ook 'n M-graad in Gesinsberading gedoen. Ek werk reeds aan my doktorale tesis wat iets te doen gaan hê met die ontwikkelende kerk (emerging church) in die wêreld en veral in Suid-Afrika. Hierin het ek baie ervaring, aangesien ekself 'n uitreik in 2007 begin het wat ek noem, Kuierkerk. Dit is veral gemik op kerklos en kerkseer mense wat nie meer in die formele tradisionele kerk 'n tuiste vind nie. Ons het min of geen reëls en almal is welkom. Ons basseer ons dienste op eenvoud, eerlikheid en waarheid of soos my vrou sal sê: Koffie, kuier en kerk! Want ons glo dat kuier en koffie die bestandele is wat maak dat mense mekaar ken, vertrou en saamwerk. Ons diens begin met koffie, voorsang, 'n 'slideshow'  van die week se bedrywighede, 'n praatjie wat ek gee oor die Bybel en God se plan en visie met die mens en eindig gewoonlik met nog 'n gekuier by 'n koffiewinkel na die tyd. Mense mag enige tyd hande opsteek en vrae vra en ek gee ook na die diens tyd daarvoor. Die uitreik het gegroei van sowat tien mense in 'n klubhuis na sowat 500+ wat elke sondag in die Xanadu winkelsentrum op Hartbeespoort bymekaarkom in 'n groot winkelarea. Ons is informeel en sonder fieterjasies maar jy kan maar sê ons is steeds 'n informele NG tipe kerk. Ek het immers my grootword en opleiding in die NG kerk gekry. Ons stoei net nie met twispunte soos groot of klein doop of bekers of glasies of dasse en hoë torings en preekstoele nie. Ons musiek is rustig met kitare en/of 'n keyboard. Ons kinderkerk is dinamies met 'n nuwe stelsel waaraan my vrou, Rene' werk, wat kennis van die Bybelboeke insluit vanaf Genesis tot Openbaring.
En ja ek was vir 'n jaar of twee by ons eie NG kerk op die dorp aangestel as Predikant met die spesifieke doel om die ou kerk te vernuwe en versoening te probeer bewerkstellig met die Kuierkerk uitreik, maar ongelukkig het my visie en die van die bestuurspan te veel verskil. Ek het gedink ek kan vernuwing of hervorming teweegbring binne die bestaande stelsel, maar God het weereens 'n ander pad vir my in gedagte gehad. Tans is ek alleen predikant by die Kuierkerk en is einde Julie oppad na Amerika saam met 'n groepie predikante en Prof Stephan Joubert om die emerging church in Amerika te gaan bestudeer.

Hieronder is 'n ou-ou beriggie wat my vrou nog vir 'n tydskriffie geskryf het in 2003 oor ons agtergrond. Lees maar as jy tyd het.

Groete Anton  



INGENIEUR VIR DIE HEILIGE GEES!

                        Deur René van Zyl (Vryskutjoernalis)


Op sy dag het Anton van Zyl as elektriese ingenieur namens Eskom aan duisende huise regoor die land elektriese krag voorsien, maar deesdae vertel hy mense van ‘n ander soort krag: die krag van die Heilige Gees!  As ingenieur en teoloog moes Anton egter ‘n pad van baie smart, ontnugtering en verlies stap voor die Here die beste uit hom kon haal.

Anton, ‘n afgestudeerde ingenieurstudent van die Puk, is vandag – op die jong ouderdom van 40 – ‘n voltydse student in sy vyfdejaar aan die Universiteit van Pretoria. Ja, hy is die oudste student in sy klas! Om Grieks en Hebreeus met besondere goeie punte af te skryf en terselfdertyd met sy M-graad in Antieke tale besig te wees, is ‘n groot prestasie vir ‘n outjie wat skaars Afrikaans op skool kon deurkom! (Ja-ja, ek moet bysê hy het darem onderskeidings vir wiskunde en wetenskap gekry!). Maar hy is gou om te sê dat jy nie anders kan as om goed te doen met proffies soos Jan van der Watt, Stephan Joubert en Hennie Stander nie – hulle inspireer jou ver bo jou vermoeëns!

Anton sê sy gawe is beslis om lering te gee. Hy glo die Here het hom geseën met besondere insig in die Woord en hy kan die Bybel op ‘n eenvoudige manier vir mense oopbreek – van geleerdes tot kinders. Anton is reeds ‘n paar jaar lank al mede-spreker by die mannekampe van die NG gemeente op Hartbeespoort en ook by huwelikskampe. Hy preek selfs by die kinderkerk en waar hy sy kreatiewe brein erg moet tap! En natuurlik kom alles nie maklik en vanself nie – agter Anton lê ‘n besondere moeilike pad van snoei en versterking waarvoor Anton nie anders kan as om die Here vandag te loof en prys nie.

Anton se lewe getuig van die sukses van ‘n ambisieuse jong Ingenieur met ‘n paar sake-ondernemings en baie geld. Maar hierdie sukses het ook gepaard gegaan met baie werkstres en groot transaksies wat beklink moes word – en soos dit die gebruik is, moes dit met drank afgespoel word en met gereelde partytjies afgesluit word. Die gevolg was sy huwelik wat daaronder gely het – wat die Here later wonderbaarlik herstel het. Hy moes ook deel met sy seuntjie, hulle eersteling, wat permanente ernstige breinskade opgedoen het, ergere depressie, slaapterapie (amper skokterapie) en die “prozacs” wat gevolg het. Die Here het egter ingegryp tydens ‘n huwelikseminaar en beide Anton en sy vrou, René, se lewens in ‘n oomblik lewensveranderend omgekeer.

Hierna was alles nie net maanskyn en rose nie – ‘n paar ondernemings van Anton het misluk – hy verloor sowat R1 miljoen in die proses asook dierbare vriende vir wie die skok te erg was! Maar God is steeds in beheer en lei hom geleidelik om by sy roeping as Teoloog uit te kom. Anton is tans ‘n Teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria, besig met twee Meestersgrade. Sy begeleidingspredikant is ds. Sarel Visser van die NG Gemeente Moreletapark. Hy en sy vrou en drie kinders, Sean-Jacques (11), Michelle (9) en Chantal (6) bly op ‘n lieflike kleinhoewe buite Pretoria, omring met die Hartbeespoortdam aan die een kant en die Magaliesberge aan die ander kant, ‘n plek waar hulle God elke dag opnuut beleef met elke sonsopkoms en -ondergang. 

Omdat Anton soveel ervaring het met die gewone mens se ambisie, soeke na sukses en geld, die versoekings van die werksplek, die smart en lewe met ‘n gestremde kind, die pyn maar ook die herstel van ‘n gebroke huwelik, en die daaglikse wandel met die Here, is hy ‘n besondere geseënde spreker by manne- en huwelikskampe asook manne-oggende. Sy getuienis is vervleg met ‘n diepe belewenis en kennis van God die Vader, ‘n dag-tot-dag wandel met sy Vriend Jesus en ‘n intense belewenis van die Heilige Gees wat hom daagliks rig en lei.

INDIEN U VIR ANTON AS SPREKER WIL NOOI, KONTAK HOM GERUS BY 082 5711721 of by anton@kuierkerk.co.za

Foto: Anton by sy elfjarige breingestremde seuntjie, Sean-Jacques.


No comments:

Post a Comment